Elke HSH leerling kan trots wees om deel te wees van HSH se geskiedenis en toekoms.

Die Geskiedenis van HSH (1855 - vandag!)

Geniet gerus hierdie opsomming van die vermaaklike geskiedenis van Hoërskool Hopefield. Besoek die skool se museum om heelwat meer fotos en artefakte te sien en leer meer oor die spook van 'n historiese wetenskap-onderwyser wat glo die skoolgronde besweef...

Sedert 1708, toe die eerste plase in die Hopefieldomgewing geproklameer is, tot 1851, het die ryker inwoners gebruik gemaak van verloopte matrose en rondreisende onderwysers om hul afgesonderde kinders van 'n skamele mate van opvoeding te voorsien. Die meisies was beter opgevoed as die seuns wat ook op die plaas moes werk. Die boere het opvoeding versmaai, want hulle het stories gehoor van slawe aan die Kaap wat daaglikse opvoeding ontvang het en toe glo lui geword het.

Teen die mid-1850's het skole gewoonlik onder die mantel van die NG Kerk geval. Die pasgestigde Hopefieldgemeente het hul hard beywer om opvoedkundige geleenthede te skep. Die kerk het eers in 1853 die gemeenteklerk, Mnr J. H. Janssen, aangestel om ook as onderwyser te dien, teen 'n salaris van R150 per jaar! Onder die wakende oog van die kerk was sy hoofdoel om leerlinge voor te berei vir aanneming.

Die Regeringsskool van Hopefield het tot stand gekom in 1855, toe Mnr J. H. Janssen aangestel is binne die amptelike raamwerk wat deur J. Rose-Innes (Superintendent-Generaal van Opvoeding) daargestel is. Mnr Janssen het in 1865 aansoek gedoen om 'n Engelse klas te begin en hy het sy eie klaskamer vir hierdie doel beskikbaar gestel.

Teen 1879 het 202 van die gemeentekinders net af en toe skool bygewoon; 421 kinders het nooit by die skool uitgekom nie. Op hierdie stadium was die skool ten volle geïntegreer, en het geleidelik gegroei totdat dit naderhand die graanstoor oorgeneem het.

Van Graanstoor na Hoërskool

In 1889 is Mnr Janssen as skoolhoof opgevolg deur Mnr Bresler. Nog n onderwyser, Mnr William Hugh Wilson, het dieselfde jaar aangesluit - hy was glo baie lief om sy rottang aan te wend vir dissipline en is onder 'n wolk by die skooltjie weg.

In 1922 word Mnr Bresler opgevolg deur Mnr P. Roux. 'n Nuwe groeifase begin toe Mnr Roux deur Mnr A. W. Smit (1923-1945) opgevolg word. In 1923 word die skool geïnkorporeer as 'n Hoërskool onder die leierskap van Mnr Smit.

Mnr Smit was glo n vurige rooikop met 'n sagte hart. Hy het steeds Engels, Afrikaans en Latyn aangebied ten spyte van sy hoofskapspligte en hy kon die oplossing van 'n moeilike wiskundesom so maklik as "koek eet" laat klink. Hy het elke jaar besoek afgelê by al die ander skole in die omgewing om ouers te oorreed om hul kinders na Hopefield te stuur - iemand wat bemarking goed verstaan het!

Die seunskoshuis het begin as 'n "arm-koshuis" in 1928 met die doel om opvoeding binne die bereik van minderbevoorregte kinders te plaas. Die naam van die koshuis is later verander na "Voorreg" en weer in 1950 na Huis Walters, soos dit vandag nog bekend staan.

Die meisieskoshuis is in 1939 voltooi en is dadelik Huis Eureka genoem.

Die skool het van 1945 af van krag to krag gegaan onder die leierskap van invloedryke opvoeders soos A. J. Sadie, A. W. Retief, A. L Botha, N. W. Du Bois, H. J. Neethling en J. Cawood. Die mees onglangse hoof om uit HSH se diens te tree, was Mnr Marius Hitge. Sy vrou, Dianne, het egter nog skoolgehou tot en met 2017.

Historiese foto van Hopefield Hoerskoolgebou en historiese foto van Huis Walters Koshuis

HSH: Hede en Toekoms

Sedert 2010 gedy die skool onder die leierskap van Mnr Wehan Fourie. Hy word ondersteun deur 'n ongelooflik goed-gekwalifiseerde onderwyspersoneel sowel as 'n passievolle Beheerliggaam.

Leerlinge van wyd en syd woon HSH by, alhoewel die meerderheid vanuit die Weskusomgewing soos Hopefield, Langebaanweg, Langebaan, Saldanha, Vredenburg, Velddrif en Laaiplek kom. Die skool is die sosiale en ekonomiese anker van Hopefield.

Vir nog brokkies oor die geskiedenis van Hopefield, besoek die Hopefield Geskiedenis op Wiki of doen navraag by die skoolbiblioteek aangaande boeke soos "Hopefield deur die Eeue" deur J. A. Baard (1986).

Hoërskool Hopefield het begin bekendstaan as die Weskusskool van Keuse. Selfs by verre sportbyeenkomste hoor ons van die skool "waarop alle oë gerig is"!

Een van HSH se grootste uitdagings is dat die waglys die laaste paar jaar al langer word, terwyl beskikbare plekke al minder word. HSH wil graag ons kleiner klasgroottes en intieme familiegevoel behou sonder om deurlopende verbeteringe aan ons prestasies prys te gee. Die skoolleierskap wil HSH die toekoms inlei met verbeterde fasiliteite, tegnologie en resultate - sonder om leerlinggetalle te laat ontplof.

Dit plaas groot druk op die finansiële bronne van 'n skool (wat slegs 3-4% van bedryfskostes van die Departement van Onderwys ontvang!). Die skool maak staat op fondsinsameling en borgskappe.

Die graanstoor het die tuiste van die skool geword toe ou fasiliteite ontgroei is in 1870's
Geskiedenis van Hopefield Laerskool
Die Hopefield Hoerskool Museum bied fotos, interessante items en stories.
Hopefield Hoerskool se geskiedenis is ryk aan beelde, stories en suskesse!