Mens kan sommer voel hoe die HSH leerlinge die verskeie kulturele klubs en aktiwiteite by HSH geniet - ons sterk punt.

Kultuuraktiwiteite by Hoërskool Hopefield

Hoërskool Hopefield bied verskeie kulturele klubs en aktiwiteite om die kulturele en sosiale aspekte van leerders te help ontwikkel:

  • Musiek / Orkes
  • Kuns
  • Eisteddfod
  • Varia Revue & Toneel
  • Skaak
  • Skoolkoerante
  • Lees
  • Redenaars
  • Olimpiades
  • Sosiale Geleenthede
  • Sosiale Verantwoordelikheid
  • Uitstappies

Hoerskool Hopefield bied 'n reeks musikale moontlikhede om 'n liefde vir musiek aan te moedig.

Musiek by HSH

HSH bied musiek as 'n vak of ekstra vak aan, in samewerking met die Weskus Musiekakademie (WCMA). HSH bied die fasiliteite; die musiekonderwysers gee klas in klavier, blaasinstrumente, snaarinstrumente en dromme. Leerders voltooi hul geakkrediteerde teoretiese en praktiese eksamens onder deskundige leiding.

Verskeie leerlinge word jaarliks gekies om deel te wees van die uitstekende Weskusjeugorkes (sowel as trios en ensembles) - 'n inisiatief wat Weskus-musiekvaardighede bevorder.

2025-hoogtepunte: Marianda Prinsloo, Theo Noble, Wikus Redelinghuys en Jancke Smit het aan die "Show Your Talent" sangkompetisie in Kaapstad deelgeneem en goue medaljes verwerf. Jancke Smit het as deel van die SA span deelgeneem aan "Stars of the Universe" waartydens 43 lande meegeding het, waar sy twee 1ste plekke en een 2de plek behaaal het in verskillende afdelings in die 15-17 ouderdomsgroep. Sy is ook as algehele wenner van "Show your Talent Overall" aangewys. Jancke kwalifiseer met beide haar liedjies vir die SA 2026 Span wat aan "Talent America" gaan deelneem! Caitla Eksteen en Lianel Burgerhet het beide hoë meriete toekennings van die "Royal Academy of Dance" vir ballet ontvang.

HSH ag die kunste belangrik vir die holistiese ontwikkeling van kinders.

Kuns by HSH

Visuele Kuns word by Hoërskool Hopefield as vak aangebied, in samewerking met die Lientjie Blok-Kunssentrum.

Graad R-9 leerders kan ook inskryf vir die Skoolkunskategorie van die jaarlikse Wes-Boland Eisteddfod en geniet die toegewyde leiding van die grondslagfasepersoneel en die kunsonderwysers.

Graad 10-12 leerders word deur Lientjie Blok ingeskryf in die Gevorderde-kuns & Ontwerp-kategorieë van die jaarlikse Wes-Boland Eisteddfod.

2025-hoogtepunte: die ontwerpe van Carla Conradie en Janke Henrico was gekies om by die Irma Stern museum in Kaapstad uitgestal te word. Carli Basson se werk was ook gekies as deel van die 2026 Santam Aanlynuitstalling.

Hopefield Hoerskool skryf leerlinge in vir 'n verskeidenheid Eisteddfod kategoriee.

Eisteddfod-prestasies

HSH se jaarlikse deelname aan die Wes-Boland Eisteddfod is 'n hoogtepunt wat ons leerders terdeë geniet, soos bewys deur die aansienlike aantal kategorie-wenners.

Leerders word aangemoedig om in verskeie kategorieë (in Engels of Afrikaans) in te skryf: kreatiewe skryfkuns, poësie, prosa, monoloë, onvoorbereide lees en drama. Leerlinge met sang- of dansitems kan ook in dié kategorieë inskryf en die WCMA skryf musiekleerders in volgens hul musiekinstrumentvoorkeure en vermoëns. Omdat HSH by Wes-Boland Eisteddfod affilieer, pas ons hulle beleid toe.

2025-hoogtepunte: 660 toekennings waarvan 135 cum laude, 235 goud, 205 silwer en 85 brons was, met 47 kategoriewenners. Eisteddfod deelnemers het gestyg vanaf 517 in 2024 na 660 in 2025. Jana Olivier het die afgelope drie jaar die dogterstrofee gewen vir die dogter wat die meeste kategoriee gewen het tydens die Wes-Boland Eisteddfod!

Hopefield Hoerskool drama klub skep 'n pret omgewing om teater te ondersoek en ervaar

Varia Revue

HSH bied sang, dans en toneel op 'n weeklikse basis aan onder die vaandel van Varia. Die laer- en hoërskool Variaspanne werk hard aan die Revueproduksie wat vroeg in Augustus plaasvind. Almal het hope pret, terwyl talent ontwikkel en tentoongestel word.

Oudisies vir die laer- en hoërskoolspanne word in die vierde kwartaal gehou. Verskeie leerders het ook al op provinsiale of nasionale vlak aan kompetisies in sang, dans of toneel deelgeneem.

2025-hoogtepunte: "Opi Kassie" was 'n puik produksie deur gewone HSH-leerders en opvoeders wat uiters hard gewerk het. Hulle verdien al die staande ovasies wat hulle ontvang het!

Sommige van ons HSH-skaakspelers vaar uitstekend in die Weskusgebied-kompetisies.

HSH-Skaakklub

Reeds in die Grondslagfase word ons leerders aan skaak bekendgestel. Dit help om hul redenasievaardighede te ontwikkel, en vorm deel van hul agtergrondkennis wanneer hulle by die skool se skaakklub aansluit.

Die gretige skaakklub vergader een maal per week by die skool om te oefen en hulle gebruik skaakstelle wat deur die skool verskaf word. Die enorme skaakstel in die skoolvierkant ('n donasie van 'n goedgesinde ouer) help baie om leerders meer bewus te maak van die spel, en is 'n bron van vermaak vir leerders van alle ouderdomme.

2025-hoogtepunte: 3 spelers is in die Weskusspan opgeneem en het by die Wes-Kaapse Individuele skaaktoernooi gespeel: Shaundré Lewaks, Dale Diergaardt en Mischke Schoeman. Shaundré Lewaks is uitgenooi om aan 'n nasionale skaakkompetisie deel te neem.

HSH-Koerante word deur vrywilligers saamgestel.

HSH-Skoolkoerante

Die 'Snuffels' is HSH se kwartaallikse skoolkoerantjie wat deur hoërskoolleerders bedryf word. Die redaksie snuffel interessante nuusbrokkies (soms skindernuus!) uit, en waag dan hul hand aan joernalistiek.

Nuusbrokkies word ook op Instagram geplaas deur ons bedrywige sosiale media-span.

Die 'Bokkie' gee ons laerskoolleerders die geleentheid om ook deel te wees van 'n skoolkoerant wat sosiale nuus, prestasies en stimulerende aktiwiteite bevat.

Die redaksie se kreatiwiteit, goeie beriggewing en tegniese versorging verseker dat lesers gretig uitsien na elke kwartaal se uitgawe, of plasings.

HSH moedig 'n liefde vir lees aan op verskeie maniere.

Lees

Ons biblioteek: die hart van kennis, kreatiwiteit en nuuskierigheid. Hier bied ons 'n veilige en inspirerende ruimte waar leerders toegang het tot boeke, digitale bronne en leerhulp.

Die biblioteek is nie net 'n plek om te lees nie, maar ook 'n sentrum vir navorsing, samewerking en ontdekking.

HSH bied verskeie maniere om HSH-leerders se taal- en aanbiedingsvaardighede te slyp.

Redenaars by HSH

Gr 4-12 leerders kan jaarliks hul redenaarsvermoëns by redenaarskompetisies ontwikkel onder een van die drie ouderdomsgroepe: Laerskoolfase (Gr 4-7), Senior Fase (Gr 8-9), of die VOO-fase (Gr 10-12).

Wanneer die geleentheid hom voordoen, neem ons leerders ook graag deel aan eksterne redenaarskompetisies soos by ons plaaslike Museum of die ATKV-redenaarskompetisie.

Daar word jaarliks 'n redenaars-werkswinkel vir hoërskoolleerders aangebied om hul vaardighede verder te slyp.

Laerskoolleerders word van tyd tot tyd die geleentheid gebied om teen ander skole deel te neem.

Hopefield Hoerskool moedig leerders aan om aan die Conquesta Olimpiades en Nasionale Olimpiades deel te neem, sowel as aan algemene kennis programme.

Olimpiades & Kompetisies

Graad 1-7 leerders kan deelneem aan die Conquesta Olimpiades, terwyl Graad 10-12's aangemoedig word om, onder andere, aan die Wiskunde, Rekeningkunde en Engelse Nasionale Olimpiades deel te neem.

Leerders voel dikwels oorweldig deur al die inligting wat hulle moet verwerk en hul kennis van aktuele sake is soms onvoldoende vir die werkswêreld. Die skool plaas klem daarop om algemene kennis te verbreed en verskaf dus daagliks koerante.

Gr 4-12 leerders kry ook jaarliks tydens die derde kwartaal die geleentheid om deel te neem aan die Interhuiskompetisie (tussen die Blou- en Goudspan) se formele Algemene Kennis Vasvrae.

HSH sosiale geleenthede vir almal

Sosiale Geleenthede

Die Mnr. en Mej. HSH-kompetisie, die Valentynsokkie en die Winterbal is die sosiale hoogtepunte van die jaar.

By eersgenoemde word die wenners deur buite-beoordelaars uit tien finaliste aangewys. Mej. HSH tree dan tydens interskole op as die skool se sjampanjenooientjie.

Die Winterbal word deur die leerlingraad gereël en help hulle om hul bestuurs- en sosiale vaardighede te versterk. Hulle werk maande lank hard om hierdie aand spesiaal te maak vir al die Wintersport-atlete wat aan interskole gaan deelneem.

Soos die Hoërskool, het die Gr 6-7 leerders ook kwartaalliks hul eie Sokkie met 'n opwindende tema!

Elke kwartaal word die Laerskoolleerders met 'n fliek of speletjiesaand getrakteer.

Sosiale verantwoordelikheid by HSH

Sosiale Verantwoordelikheid

Sosiale verantwoordelikheid word op verskeie maniere aangemoedig. Die Laerskool- en Hoërskoolleerlingrade span saam en doen kwartaaliks 'n uitreik na 'n Weskuslaerskool om broodnodige nie-bederfbare kosprodukte vir hulle Voedingskema in te samel (in samewerking met die Omgeemense van SA).

Die Laerskool se hoofleiers verteenwoordig HSH gewoonlik by die oorhandiging van hierdie produkte.

2025-hoogtepunte: Janco Britz, Chloë Henning, Heinrich Koegelenberg, Jaylin Peters en Alex Alberts het as Junior Raadslede van die Saldanhabaai Munisipaliteit gedien.

HSH uitstappies verbreed leeders te horisonne

HSH-uitstappies

Verskeie uitstappies verryk HSH-leerders: ons besoek uitvoerings by ArtsCape, Mynhardtville (waar Shakespeare se werk vertoon word) of die Baxter teater. Hierdie blootstelling help ons leerders om literatuur en drama te waardeer. Enige opvoering van voorgeskrewe werke, veral op Gr 12-vlak (Afrikaans of Engels), word bygewoon indien moontlik. Gr 10-leerders wat Afrikaans as huistaal neem, kan ook na die Knysnabosse toer om die wêreld van "Fiela se Kind" te beleef.

Die Grondslagfase-leerders woon jaarliks die Vlooi-vertoning by Artscape by – 'n lang busrit, kosblikke en vermaaklike teater! Gr R-leerders gaan ook soms op daguitstappies in ons eie omgewing (blootstelling aan 'n plaas, of die Brandweer).

Graad 4-7 leerders word uitgenooi na 'n 2 tot 3-dag buitelugkamp, deur onderwysers gereël om 'n liefde vir die natuur en respek vir ons aarde aan te wakker.