Ons het weer eens uitstekend gevaar in 'n wye verskeidenheid Hoërskool Hopefield sportsoorte. Entoesiastiese deelname is deel van wie ons is. Ons vergeet soms hoe spesiaal dit is want skole sukkel om leerders te kry om aan sport deel te neem. By HSH sukkel ons om die groot volumes leerders wat wil deelneem te bestuur! Ons is ook geseën is met entoesiasme in oorvloed wanneer dit by ons afrigters kom.
Kyk gerus na hierdie kort video (3.12) om 'n gevoel te kry vir die pret wat ons by HSH het!
Leerlinge geniet ook die geleentheid om pluimbal en jukskei te speel op lang dae. Leerlinge word aangemoedig om selfs sportsoorte buite die amptelike buitemuurse program te beoefen solank dit hulle aanspoor om aktief te bly.
2025-hoogtepunte: Luke Holtzman het die Afrika karate-kampioenskap se kumite-afdeling gewen en is as die Afrika-kampioen bekroon. Meguel Ocks het aan die SAKA Nasionale Skopbokstoernooi in KwaZulu-Natal deelgeneem, waar hy ’n 1ste en 2de plek in sy verskeie afdelings verower het. Meguel het Suid Afrika verteenwoordig in die "Desert Storm" internasionale kompetisie in Namibië, waar hy in sy twee divisies 1ste plekke behaal het. Shira-Yuki Botha (graad 8B) het aan die MASA Weskaapse provinsiale jiu-jitsu kompetisie deelgeneem en 'n silwer medalje verower. Christine van Heerden het deelgeneem aan die SA Saalperd kampioenskappe in Bloemfontein. Christine het uitstekend gevaar en stap weg as Kampioen in twee versillende 0/10 afdelings. Carmen en Bianca Pieters het die Westelike Provinsie varswater-hengelspan gehaal en verteenwoordig by die Nationale kampioenskappe. Carmen was ook ingesluit in die Nasionale SAVOF O/19A-span wat aan die toernooi te Bloemhofdam deelgeneem het. Tamikah Mason en Jodie-Ann Samuels het goud en silwer verower by die gimnastiek distrikkompetisie en was deur die Weskaapse Regeringsdepartement vir kultuursake en sport uitgenooi om aan die nasionale skole toernooi deel te neem.
Die gewildheid van atletiek en landloop by HSH word weerspieël in ons atlete wat uitstekend vaar op provinsiale en nasionale vlak en dikwels medaljes verower. 'n Groot aantal hoërskoolatlete verteenwoordig HSH in baan- en velditems en ons is baie trots op die amper 100% deelname by ons jaarlikse kleure-byeenkoms!
Die atletiekbaan is by Hopefield se sportgronde, 'n kort stappie van die skool af, met spoggerige pawiljoene en kleedkamers.
2025-hoogtepunte: 42 Atlete het HSH by die Bolandkampioenskappe verteenwoordig, waar 13 provinsiale kleure verower het en uitgenooi was om aan die Weskaapse-kampioenskappe deel te neem. 6 Atlete het vir die Suid Afrikaanse Kampioenskappe gekwalifiseer. 9 Atlete het aan die Weskaapse Kampioenskappe deelgeneem waar HSH 2 Weskaapse rekords gebreek het: Elgan de Wet in beide 100 en 200-meter seuns U/13. Ons laerskool-atlete het in Gauteng deelgeneem aan die nasionale Laerskool SA Atletiek Kampioenskappe. Elgan de Wet het ‘n 1ste plek in beide die 100 & 200m behaal, en was ook deel van die Wes-Kaap aflosspan wat silwer verower het. Anika Basson het ‘n 4de plek in skyfwerp en 'n 3de plek in gewigstoot behaal. 4 Atlete het aan die Atletiek Suid-Afrika (ASA) byeenkoms deelgeneem, waar Mieke Janse van Rensburg ‘n 3de plek in skyfwerp en Mariné Grobler 'n 2de plek in spiesgooi behaal het.
Ons het oor die jare al uitstekende HSH-krieketspelers gelewer, danksy die harde werk van afrigters en spanne wat vrug afwerp.
HSH beskik oor uitstekende krieketfasiliteite. Die krieketfasiliteite is by die Hopefield sportgronde geleë, 'n kort stappie van die skool af.
Ons rig ook mini-krieket af. Ons oefen twee maal per week en wedstryde vind gedurende die week plaas.
2025-hoogtepunte: Grishlan Louw was opgeneem in die Boland o/17 plattelandse krieketspan wat baie goed gevaar het by die Nasionale Plattelandse Week. Wernich Schreuder was opgeneem in die Weskusspan wat aan die Weskaapse o/13 toernooi deelgeneem het. Hy het ook die Krieketspeler van die Jaar toekenning verower by die Saldanhabaai Laerskool Sportbanket. Ons eie Mnr. Morgan Smit was die hoofafrigter van die Weskus o/13 span. Hierdie sal die tweede jaar wees waarin ons die interne Bosbaard "Big Bash T20" kriekettoernooi aanbied. Ons het in jaar een 38 spelers gehad; 54 spelers sal in jaar 2 deelneem.
HSH is trots op ons gholfspanne wat gereeld in skoolligas speel met goeie resultate.
Die Langebaan Buiteklub dien as ons basis.
HSH spog met sy eie kortbaan by die sportgronde en ook met 'n gewilde Gholfdag wat elke jaar vol bespreek is.
HSH se hokkiespanne het die afgelope paar jaar goeie vordering gemaak met toegewyde afrigters en uitstekende hokkieklinieke wat ons uitmuntende standaard waarborg.
Die Hopefield sportgronde, wat net om die draai van HSH is, huisves ons hokkievelde.
2025-hoogtepunte: ons hokkiespelers het wel gevaar op streeksvlak: Raphael Lawrence, kaptein van die 1ste-span, is gekies vir die Boland O/18 hokkiespan, Ave Khuselo vir die Boland O/16 hokkiespan en Bokamoso Manyokole is gekies as nie-reisende reserwe-speler vir die Boland O/14 span (ons hou die jong speler se ontwikkel graag dop oor die seisoene wat kom).
HSH het sover reeds 2 nasionale netbalspelers ontgin en geslyp! Ons meisies toon 'n gesonde belangstelling in netbal as skoolsport.
Ons bied 4 netbalbane wat goed onderhou word sowel as entoesiastiese, ervare netbalafrigters.
2025-hoogtepunte: die jaar het verskeie beserings ons spelers vir lang tydperke van die baan gehou, maar die spanne het voortgebou op die prestasies van vorige jare. ’n Hoogtepunt was Paris Samuels se opname in die Wes-Kaap o/18-span. 6 Netbalspelers het die Weskus by die Interdistrikskompetisie in die Suid-Kaap verteenwoordig. In die 2026-seisoen, glo ons dat HSH se nuwe vennootskap met Marcell Maroun (van Netbal SA) beslis ’n waardevolle bydrae tot ons afrigting sal lewer. Ons eie Juf Beulen Lazarus ('n oudleerder wat nou ons O/19 A-span afrig) is gekies vir die Tornado Netbalspan.
Rugby is 'n gewilde seunsport by Hoërskool Hopefield, met tot 12 spanne wat op 'n Saterdag aan wedstryde deelneem - o/7 tot o/19!
HSH se o/15A, o/16A en o/19A-span is gewoonlik deel van die Top 60 op SA Skolesport se ranglys.
Die C.W.L. Baard Rugbydag is 'n jaarlikse hoogtepunt waar amper 1000 seuns hul passie uitleef op die rugbyveld.
2025-hoogtepunte: 16 Rugbyspelers was in Frankryk vir 'n langverwagte rugby toer. Wat ‘n ongelooflike voorreg! Ons beplan reeds die volgende toer. 6 HSH spelers het provinsiale kleure verower: Juan Papier, Elgan de Wet, Evan-Lee Berling, Toboho Tomeng, Clint Africa & JT Adams.
Hopefield Hoërskool het eers in 2008 sokker as sport begin aanbied. Van die begin af was ons beïndruk met die spelers se gewilligheid om te oefen om hul mededingendheid en resultate te verbeter.
Die sokkervelde is geleë by die Hopefield Sportgronde, net 'n kort entjie van HSH af.
Ons speel gedurende die week sokkerwedstryde teen ander skole.
HSH se hoogs kompeterende swemspan en tweekampers neem gereeld deel en presteer uitstekend!
Die swembad is reg oorkant die skool geleë. Ons is baie trots op die standaard van ons skoolswembad, kleedkamers en pawiljoen.
2025-hoogtepunte: Mila Tredoux het deelgeneem aan Swem Suid-Afrika se Vlak 2 kompetisie in Oos-London en het baie goed presteer. 5 swemmers is in die Boland tweekampspan opgeneem om in Oudtshoorn deel te neem aan die Interprovinsiale kompetisie, waar Wouter van Heerden algehele 5de-plek behaal het. Keaton Gouws en Wouter van Heerden was gekies om die Boland tweekampspan by Nasionale SA's Tweekampkampioenskappe te verteenwoordig. Wouter van Heerden het onder die top 20 deelnemers geëindig en Keaton Gouws het in 'n ouer ouderdomsgroep deelgeneem en baie goed gevaar.
HSH se tennisspanne onderskei hulself, en doen altyd hul bes. Ons laer- en hoërskoolspanne neem deel in die Wes-Boland tennisligas.
HSH bied 4 tennisbane wat goed onderhou word en ons beskik oor drie bekwame afrigters.
Ons bied nou ook sosiale Pluimbal (en Jukskei) op langdae aan (nie kompeterend nie).
2025-hoogtepunte: Michael Dante (Graad 9) is opgeneem in die 0/19 Weskus-Suid Tennisspan.